Lewe in die oomblik

Januarie 4, 2012

So in die refleksie op die nuwe jaar wat voorlê maak ek toe ook ‘n draai by my blog en sien dat ek in 2008 laas iets geskryf het… Genade, hoe vlieg die tyd!

Nietemin… Ons is pas terug van ‘n heerlike 10-dae wegbreek na Mtwalume op die KZN Suidkus… Behalwe vir die Kersdag en Nuwejaarsdag spektakels op die strand, het ons ‘n wonderlike tyd saam met familie en vriende (en ons honde) deurgebring. En nou… nou is ons weer tuis… met heerlike herinneringe, bruin lywe, ‘n bondel wasgoed, ‘n dunner beursie en… ‘n effe terneergedruktheid. Dis so ironies…‘n mens sien met soveel verwagting en entoesiasme  uit na ‘n welverdiende ruskans en dan, eensklaps word jy een oggend wakker en dis weer verby. Ek moet sê, persoonlik ervaar ek dit as ‘n tipe van ‘n paradoks en moet ek net keer of ek wil “alles is ‘n gejaag na wind” gedagtes koester. Kyk ek na die foto’s, dan voel dit al klaar so lank terug. Die probleem is, in daardie denkraamwerkkan‘n mens so maklik somber raak en dink, “wat help dit tog? Moet ek nie maar net aanhou werk, dan hoef ek nie aan hierdie tipe emosionele fluktuasies blootgestel te word nie?”

“Ruk jou reg man!”, breek die stil-stem deur… “lewe in die oomblik… kyk vir die bekoring in elke faset van die lewe, of dit werk, speel of rus is… wees dankbaar vir die geleenthede om weg te kan breek… en wees dankbaar om te kan werk.”

So, daar is dit… seisoene kom en seisoene gaan… hooggety en laaggety… die ritmes van die lewe… elkeen met sy eie bekoring… en ek besef dat ‘n ingesteldheid om die sakrament van die oomblik te geniet my ywer moet wees…


Sewe wenke om stres te bestuur

Junie 14, 2008

Ons almal ondervind op een af ander stadium – in ‘n meerdere of mindere mate – stres. Die wyse waarop ons dit hanteer is natuurlik deurslaggewend, en sommige mense hanteer (of bestuur) dit beter as ander. Ek het onlangs op ‘n Engelse artikel wat die kwessie aanspreek afgekom, en gedink om ‘n bondige samevatting hier te deel. Dit het my eie lewensreis onder die vergrootglas geplaas, en miskien kan jy ook ietsie hieruit neem. Dis vry vertaal… verskoon dus as jy van mening is dat dele beter gestel kon word…

  1. Identifikasie – Weet wie jy is. As jy onseker oor jou identiteit is, sal jy toelaat dat ander jou na hulle pype laat dans. Om iemand te probeer wees wat jy nie is nie, veroorsaak stres.
  2. Toewyding – Weet wat jy wil hê. Jy kan nie almal tevrede stel nie. Net wanneer jy A gelukkig het, is B ontevrede met jou. Moenie dat die vrees vir verwerping jou manipuleer nie. Niemand kan druk op jou uitoefen sonder jou toestemming nie.
  3. Organisering – Stel duidelike doelwitte. Voorbereiding voorkom druk, maar uitstel veroorsaak druk. Jy werk hetsy deur prioriteite of deur druk.
  4. Konsentrasie – Fokus op een ding op ‘n slag. Jy kan nie twee hase op een slag jaag nie! Jy moet in staat wees om onderbrekings te hanteer sonder dat jy van jou primêre doelwit afgelei word.
  5. Delegasie – Moenie alles self probeer doen nie. Ons raak gespanne as ons voel dat alles van ons afhang. Moenie toelaat dat perfeksionisme, of dat iemand anders ‘n taak dalk beter kan verrig jou daarvan weerhou om ander te betrek nie.
  6. Meditasie – Maak ‘n gewoonte van gebed. ‘n Daaglikse stiltetyd is ‘n goeie stres-ontlaaier. Gebruik die tyd om met God oor al jou druk en probleme te gesels, evalueer jou prioriteite, en ontdek die reëls vir suksesvolle lewe deur die Bybel te lees.
  7. Ontspanning – Maak tyd om die lewe te geniet. Balans is die sleutel tot die bestuur van stres. Daar moet balans in jou werk, pret en geestelike toewyding wees.

Waag om te glo…

Junie 11, 2008

Almal weet…
Jy kannie alles vir almal wees nie.
Jy kannie alles gelyktydig doen nie.
Jy kannie alles ewe goed doen nie.
Jy kannie alles beter as alle ander mense doen nie.

Dus…
Moet jy uitvind wie jy is, en dit wees.
Moet jy besluit wat kom eerste, en dit doen.
Moet jy jou sterk punte ontdek, en hulle benut.
Moet jy leer om jou nie met ander te vergelyk nie, want niemand anders is in die spel van “jy-wees” nie.

Dan…
Sal jy jou eie uniekheid aanvaar.
Sal jy prioriteite stel en besluite neem.
Sal jy lewe met jou beperkings.
Sal jy jouself respekteer, en volheid lewe.

Waag om te glo…
Dat jy ‘n wonderlike, unieke mens is.
Dat jy ‘n eenmalige gebeurtenis in die totale geskiedenis is.
Dat dit meer as jou reg is – dis jou plig –  om te wees wie jy is.
Dat die lewe nie ‘n probleem is om op te los nie, maar ‘n gawe om te koester.


Setperk of Putjie?

Januarie 10, 2008

Ek lees vroeër vandag van ‘n ou wat vertel toe hy gholf gespeel het, hy gedink het hy doen heel goed om die balletjie net êrens op die setperk te laat land. Hy sê sy doelwit was om die setperk te bereik sonder om homself in erg verleentheid te bring. Dus was hy tevrede selfs as die bal darem net die rantjie van die setperk kon haal. Een dag het ‘n gholf “pro” hom meegedeel wat die verskil tussen gemiddelde en uitstekende gholf is:

Die ware groot spelers speel vir die putjie, nie êrens naby die putjie op die setperk nie. Hulle mik direk vir die putjie. Hy het vir hom gesê: “Jy moet die putjie jou doelwit maak; nie net mik vir die setperk nie.”

Alhoewel gholf net ‘n spel is, het die storietjie my tog laat dink, en as ek die gholf-metafoor met my eie lewe in verband bring wonder ek… In terme van my drome, doelwitte en aspirasies, het ek nie ook maar soos die ou in die storie ‘n vae, “min-of-meer” benadering nie? Met ander woorde, ‘n hoop en verwagting om darem net die setperk van my drome te haal… al kan die balletjie minstens net op die randjie daarvan tot rus kom…

Is dit nie wat ook die verskil maak tussen ‘n gemiddelde lewe en ‘n lewe van uitmuntendheid nie? Dat diegene wat werklik vervuld lewe speel vir die droom, nie êrens naby die droom nie… hulle mik direk daarvoor. Hulle het besluit wat dit is wat hulle wil hê – spesifiek, nie vaag nie – en fokus al hulle energie op die spesifieke teiken. En ek bedoel nie geld, goed en status nie… maar dit wat vervulling en betekenisvolheid teweeg bring.

Ek weet nie hoe dit daar by jou lyk nie, maar ek het beslis nodig om weer na my gesindheid en ingesteldheid te kyk… ek is nie oortuig dat ek vir die putjie speel nie… ek dink ek speel nog vir die setperk… Ten minste is ek nou attent daarop gemaak en kan werk maak daarvan…

golfball.jpg


Van Bos na Beton

Januarie 5, 2008

Nou ja, ek’s terug van ‘n heerlike wegbreek in die Limpopo Vallei met sy (huidige) lower-groen bos, die Limpoporivier wat wal-tot-wal vloei, en die statige kremetartbome wat plek-plek die landskap volstaan…

Ek het met tye so lekker verdwaal in die rus en vrede dat ek nie geweet het watter dag van die week dit is nie. Die enigste plek wat ‘n miernes van aktiwiteit was, was Musina wat uit sy nate bars met al die oorgrens besoekers van Zimbabwe af wat hulle leë koskaste kom aanvul… Gelukkig, op die plaas het dit ons nie geraak nie, behalwe die paar keer wat dorp toe gegaan moes word om iets van die winkels af te kry.

Die weer was ook baie lekker – nie die tipiese 35°C tot 40°C wat hierdie tyd van die jaar eie aan die gebied is nie (Die warmste dag (33°C) was die dag toe ons teruggekeer het). Tyd is uitgekoop met stap in die bos, ry in die bos, laat slaap, siesta’s, braaivleis, wyn drink, af en toe ‘n bier as die son warm word, ronddryf in die swembad, boeklees, gesels, en… met tye sommer net ‘niksdoen.’

En hier is ons… terug in die loopgrawe van “operasie normaal”… met entoesiasme effe getaan in ‘n poging om heraanpassing by die stadslewe…

Nietemin, in die wegspringblokke… ‘n genesis-oomblik… ‘n nuwe begin… ‘n nuwe jaar… nuwe grond om te breek… nuwe ontdekkings om te maak… Ja, al is elke nuwe jaar ‘n vlietende oomblik in die konteks van die ewigheid is dit die volgende vastrapplek op die reis wat na die toekoms lei… die volgende sportjie op die leer van groei… Hier gaat ons! Praat weer later op die “journey.” Die mooiste en beste jou toegewens vir 2008…

imga0153.jpg


In die skaduwee van “Ou Grote”

Desember 19, 2007

Ons almal het ‘n paar “spesiale plekke”… plekke waar ons drie-derdes mens voel… plekke waarmee ons “connect”… plekke waar tyd gaan stilstaan… plekke waar spiritualiteit ‘n tasbare werklikheid word. Een van my “spesiale plekke” is by ‘n kremetart boom ‘oppie’ plaas – skoonma se plasie – skuins ‘annerkant’ Musina. As ek wil afsonder – alleen wil wees – dan kies ek koers na “Ou Grote” toe. Daar maak ek myself sit in die skaduwee van die reus en raak stil… stil sodat ek kan luister… stil sodat ek kan hoor… Twee dae is vir my veral kosbaar daar in die veld onder dié boom – Kersdag en Nuwejaarsdag. Kersdag om die genade waaruit ek leef te bepeins, en Nuwejaarsdag om die afgelope jaar onder die loep te neem en myself met verwagting en entoesiasme te “commit” vir ‘n nuwe jaar se “journey” van avontuur en ontdekking.

“So what?” Wel, dit is my voorreg om oor ‘n paar dae die stof (of teer) van Gauteng van my voete te skud en saam met my geliefde op te trek Noorde toe vir die Kerstyd… plaas toe. Net ek en sy, want die troepe (my 2 seuns) doen hulle eie ding. Die een moet werk en die ander een is iewers naby Plet saam met pêlle. Hoe dit ook al sy, ek sien uit na die tydjie van wegkom uit die ‘rotresies’ om net te gaan “chill’ ‘innie’ bos ‘oppie’ plaas… en natuurlik tyd in “Ou Grote” se skaduwee deur te bring… Weer bietjie “stock” te vat… stil te word… en te luister…

kremetart-des-05.jpg


Waar is hulle nou?

Desember 18, 2007

Ek reminisseer (ja, dis ‘n erkende afrikaanse woord vir herinneringe ophaal) nogal baie… Hoekom? Ek weet nie… gebeur sommer so in die normale loop van sake. Baie keer is dit ‘n sensoriese stimulus… iets wat ek sien… iets wat ek hoor… ‘n liedjie… ‘n foto… storie wat ek lees… iets wat ek ruik… Stimulasie op een van die sintuie wat ‘n herinnering uit die verlede sommer so laat opdoem. Assosiasies wat die brein maak met ervarings en gebeurtenisse van dae lankal vergete… en die lêer word opgeroep met ‘n dubbel-klik van die bewussyn… en et viola! daar is dit op die skerm van jou denke. En dit gaan gewoonlik gepaard met uiteenlopende emosies… nostalgie oor die aangename herinneringe… hartseer oor die onaangename herinneringe… spyt oor herinneringe van verbroue kanse en mislukkings…

Maar kom ons praat oor die goeie herinneringe… die nostalgie. Nostalgie het sy oorsprong van die Griekse woord “nostos” wat huiswaartse reis of terugkeer huistoe beteken; en “algos” wat pyn beteken. Met ander woorde, daai vreemde gevoel van “gemis” en terugverlang wanneer jy oor iets reminisseer…

Dié lang relaas bring my nou by vanaand se herinneringe en nostalgie… Waar is hulle nou? Die “hulle” is nou my eertydse makkers van Peleton 3, Echo Kompanie, Infanterie Skool… My lewensreis – so tussen treine en tussen stasies – het my gedurende 1983/84 by Infanterieskool te Oudshoorn laat aandoen. Die “vanwaar” voor dit, en “nawaar” daarna is nie vanaand belangrik nie… dalk ‘n ‘anner’ tyd… Vanaand is die ouens met wie ek ‘n klompie maande van my lewe saam in Plt 3, E-Kompanie tydens 83/84 gedeel het in my gedagtes…

Suid-basis met die wawiel voor die HK; die wawiel met 9 wit speke, 2 geel speke, en 1 rooi speek; en wanneer die rooi-speek op 12-uur geland het, was dit nag… Loopgrawe grou in klip-grond soos graniet… Inspeksie… Kolonels-pas na Hartenbos saam met Badie, Louis en Chris… Witkop Badenhorst roete… Paal-PT en “opf-kke”… Yskoue melk in die veld met opleiding wat jou “brain-freeze” gee… “Groen-k@khuis-bult”… 2,4’s met staaldak, webbing en geweer…  Flossie-vlieg grens toe… Grootfontein… Oshivelo… Omethea… Oshakati… Oshikangu… Ondangwa… Okkitopi… Baken 26½… Kaplyn… ensovoorts… TB’s… PB’s… Rondomverdediging… Shonas… Mahango-lande… ensovoorts… Pakkies van die huis af met biltong en droë vrugte… Patrollie-stap… Hinderalaag-lê… ensovoorts… Ratpacks… Honger, dors, moeg, vuil, gatvol… Drinkwater uit die shonas en “gippo-guts”… ensovoorts… Flossie-vlieg terug “states” toe…

Waar is hulle nou? Agterop die groepfoto lees ek die boodskappe wat elkeen vir my geskryf het voor uitpasseering… voor almal uitgeplaas is na ander eenhede.  Kyk ek na almal se gesigte op die foto… reminisseer ek… dink ek aan hulle, en wonder… waar is hulle nou? Gaan nie oor die ideologieë van daardie tyd nie… gaan nie oor die reg of die verkeerd nie… gaan oor die ouens saam met wie ek “ge-journey” het… die ouens met wie diep bande gesmee is… die ouens saam met wie ek sewe sakke sout opgeëet het… die ouens aan wie ek vanaand dink. Toe was ons “laaities” van gemiddeld 19 jaar oud… Dis nou 23 jaar later en ek wonder… waar is hulle nou?

infantry-school-echo-company-platoon-3-1983-84.jpg

 


Xenofobie en die vraagstuk oor die menslike psige

Desember 17, 2007

Nadat ek die nuus van die “rebellie” by die ANC kongres in Polokwane gelees het, het die beginsel van groep-psige my weer aan die dink gesit… Ek was nog altyd gefassineer deur die psige van die mens – hoekom tree ons op soos ons optree? Wat maak dat ons onsself in kategorië plaas? Wat veroorsaak vooroordeel? Hoekom is sommige nasies skynbaar meer suksesvol as ander? Wat is, byvoorbeeld, die verskil in die psige van die Switsers en die psige van die Ruandese?

My doel is egter nie om die psige van die opponerende kampe in ANC te bestudeer en ‘n ontleding van die eienskappe wat elkeen se gedrag bepaal om die rede(s) vir hulle ontevredenheid of verskille (geskille) met mekaar te doen nie. Die lees van die artikel in die Mail & Gardian aanlyn was bloot die stimulus wat my aan die dink gesit het – met die groter geheel as skilderdoek…

Met dié dinkery en rondsnuffel op die web het ek op ‘n artikel deur ‘n ene Jeffrey Winters op die webtuiste van “Psychology Today” afgekom. Die artikel heet “Why We Hate” en die opskrif lui (vry vertaal), “Ons is vinnig om die onbekende te oordeel, te vrees en selfs te haat. Ons mag dit dalk nie erken nie, maar ons word almal lastig geval met Xenofobiese neigings.”

Xenofobie, afgelei van die Griekse woord vir ‘vreemdeling’ kom neer op ‘n vrees of afkeer en weersin van vreemdelinge of die onbekende, dikwels gebruik om nasionalisties-politiese oortuigings en organisasie te beskryf – ‘n vorm van vooroordeel.

Navorsers ontdek dat die mate waartoe xenofobie maklik – selfs arbitrêr – “aangeskakel” kan word nogal akkuut is. Binne slegs ure kan ons gekondisioneer word om te vrees of te diskrimineer teen diegene wat van onsself verskil deur eienskappe so oppervlakkig soos die kleur van oë.

Die artikel verwys na ‘n onderwyseres wat ontdek het hoe vinnig groepsonderskeid gemaak word. Die onderwyseres het haar klas in twee groepe verdeel – die met blou oë en die met bruin en groen oë. Die bruin-oë groep het sekere voorregte geniet en is getrakteer, terwyl die blou-oë leerlinge beloning ontneem en vertel is dat hulle minderwaardig is.  Binne ure, het die eens harmonieuse klaskamer twee opponerende kampe vol onderlinge vrees en afguns geword. Wat eintlik skokkend was, is dat die leerlinge maar net in graad drie was!

Nieteenstaande wys ander navorsing weer daarop dat wanneer dit kom by wie ons vrees en hoe ons reageer, ons wel ‘n keuse het.  Ons kan, lyk dit, kies om nie in te gee aan ons xenofobiese neiging nie.

Sover sosiale identiteit betref, is die dryfkrag om die wêreld in geheel te verdeel tussen “ons” en “hulle” so kragtig dat dit sekerlik vanuit een of ander diep gesetelde behoefte moet ontstaan. Die presiese identiteit van daardie behoefte is egter ‘n onderwerp van debat.  In die 1970s het twee akademici Henri Tajfel en John Turner ‘n teorie ontwikkel om die sielkunde agter ‘n reeks van vooroordele en partydigheid – nie net xenofobie nie – te verduidelik. Hulle teorie was deels gebaseer op die behoefte van selfrespek.  Een manier om jou selfrespek te verbeter is om deel van ‘n eiesoortige (onderskeidende) groep te wees, soos ‘n wenspan; ‘n ander manier is om die kwaliteite van jou eie groep af te speel en die eienskappe van ander te beswadder sodat jy voel jou groep is beter.

Tajfel en Turner het hulle insigte “sosiale identiteit teorie” genoem, wat waardevol is om te verstaan hoe vooroordele ontwikkel.  Gegewe selfs die geringste kriteria, deel ons van nature mense in twee groepe – ‘n “in-groep” en ‘n “uit-groep.” die kategorieë kan van geopolitiese belangrikheid – nasionaliteit, geloof, ras, taal – of skynbaar onbenullighede soos fisiese voorkoms wees.

Gelukkig, dui navorsing ook dat vooroordele vloeibaar is, en dat wanneer ons bewus word van ons vooroordele, ons aktiewe – en suksesvolle – stappe kan neem om dit te beveg. Daar is byvoorbeeld gevind dat vooroordeel verander wanneer lede van gemengde groepe moet saamwerk om ‘n gemeenskaplike doelwit te bereik. In situasies waar spanlede moes saamwerk, kon vooroordeel beduidend verlaag word. Daar is ook gevind dat mense wat oor hulle eie vooroordele bekommerd is, die mag het om dit reg te stel.

Ongelukkig word stereotipes so gereeld versterk dat hulle ingewortel word. Dit is uiters moeilik om konvensionele wysheid teen te staan en alle mense as individue, liewer as groepe, te hanteer. Maar dit bleik die beste manier te wees om te verhoed dat ek die wêreld groepeer en sodoende diskrimineer teen een deel van die mensdom.

In die finale ontleding – lyk dit vir my – gaan dit oor ‘n keuse… ‘n wilsbesluit… Maar, dalk is dit ook ‘n oorvereenvoudiging. Dalk is daar meer aan… insig, wysheid, volwassenheid, blootstelling, opvoeding, ontwikkelingsvlak, geloofsoortuiging, konsidionering… baie dinge bly maar ‘n raaisel waarop nie klinklare antwoorde is nie…


Wil Weskus toe…

Desember 14, 2007

tietiesbaai.gifBlaai ek so deur my foto’s op die rekenaar, haak ek vas by foto’s van ‘n kuiertjie aan die Weskus gedurende Januarie 2007… Ag die heimwee… Langebaan… Paternoster… Tietiesbaai…

Dit was hoeka my eerste besoek aan die stuk bekoring aan ons westelike kuslyn, en, nodeloos om te sê, my hart was gesteel. Ek weet nie lekker om te verduidelik nie, maar daar was ‘n “connection” met die omgewing. By myself gedink, “hier kan ek bly.”

Julie-maand kon ek die “connection” met die Weskus weer ‘n slag koester met ‘n tweede besoek aldaar. Die keer het die gedagte van, “hier kan ek bly” na die oortreffende trap beweeg tot “hier wil ek bly.” Selfs my geliefde het geluide gemaak dat die Weskus haar hartsnare raak.

Wel, ek kon myself nog nie versit soontoe nie; my wortels is nog vas hier in Gautengelêng… Maar my liefde vir die plek het nog nie getaan nie… koester gereeld “schemes” om ‘n skuif te maak… Weskus toe… na waters waar rus is. En veral nou weer, met die kyk na die kiekies is die heimwee sterk…


Hoeveel myl moet ons nog loop?

Desember 11, 2007

Ek het vroeër vandag ‘n artikel gelees oor die 10 mees besoedelde plekke op aarde… besoedeling wat die resultaat is van mens se drang om vooruitgang. Daardie plekke is nou vodde – of liewer, vrot – van hetsy chemiese vervaardiging, kernreaktor ongelukke, sekere mynbou aktiwiteite soos steenkool, koper en sink, metaal smelterye, tot eenvoudige “eenkant-smyt” van industriële afval… En die inwoners van daardie plekke betaal ‘n duur prys…

Tot redelik onlangs was ek maar bra apaties jeens die hele omgewingsbewaring en aardverwarming kwessies… Dalk omdat dit nie direk aan my vel geraak het nie. Nie dat dit nou aan my vel raak nie, maar ‘n groter bewustheid het by my ontstaan na gelang ek meer oor die onderwerpe begin lees het; ‘n bewustheid wat al hoe sterker word hoe meer ek my oor die feite vergewis; skokkende feite wat my ‘n “wake-up call” gegee het. Ek begin selfs meer simpatiek voel teenoor die “Green Peace” ouens en die omgewings-ekstrimiste wat ons mos “tree-huggers” noem.

Die “bottom-line” is dat die mensdom op ‘n ramp afstuur as hy aangaan soos hy aangaan… Daar is genoegsame wetenskaplike feite om die stelling te ondersteun… Google gerus woorde soos “global warming, climate crisis, environmental health, pollution” en sien al die resulate! Dis nie gogga maak vir baba bang stories nie… dis die harde, naakte waarheid.

Ek voel nou al so sterk oor die goed dat ek besluit het om deel te neem aan die skepping van ‘n groter bewustheid deur gereeld plasings in my blogs daaroor te doen.  Die antwoord op my eie vraag, “wat kan ek doen; waar kan ek begin,” was “begin by myself.”

Ek dink aan die woorde uit ‘n liedjie van Danie Niehaus wat iets sê in die lyn van, “hoeveel myl moet die mens nog loop voor die aarde skeur en sy bors oopknoop.” Hierdie klont grond waarop ek en jy woon wat teen verbeisterende snelheid in ‘n wentelbaan en om sy eie as draai is die enigste klont grond wat ons het… Ons het nie ander klont om na te trek as hierdie een nie meer wil nie…