Lewe in die oomblik

Januarie 4, 2012

So in die refleksie op die nuwe jaar wat voorlê maak ek toe ook ‘n draai by my blog en sien dat ek in 2008 laas iets geskryf het… Genade, hoe vlieg die tyd!

Nietemin… Ons is pas terug van ‘n heerlike 10-dae wegbreek na Mtwalume op die KZN Suidkus… Behalwe vir die Kersdag en Nuwejaarsdag spektakels op die strand, het ons ‘n wonderlike tyd saam met familie en vriende (en ons honde) deurgebring. En nou… nou is ons weer tuis… met heerlike herinneringe, bruin lywe, ‘n bondel wasgoed, ‘n dunner beursie en… ‘n effe terneergedruktheid. Dis so ironies…‘n mens sien met soveel verwagting en entoesiasme  uit na ‘n welverdiende ruskans en dan, eensklaps word jy een oggend wakker en dis weer verby. Ek moet sê, persoonlik ervaar ek dit as ‘n tipe van ‘n paradoks en moet ek net keer of ek wil “alles is ‘n gejaag na wind” gedagtes koester. Kyk ek na die foto’s, dan voel dit al klaar so lank terug. Die probleem is, in daardie denkraamwerkkan‘n mens so maklik somber raak en dink, “wat help dit tog? Moet ek nie maar net aanhou werk, dan hoef ek nie aan hierdie tipe emosionele fluktuasies blootgestel te word nie?”

“Ruk jou reg man!”, breek die stil-stem deur… “lewe in die oomblik… kyk vir die bekoring in elke faset van die lewe, of dit werk, speel of rus is… wees dankbaar vir die geleenthede om weg te kan breek… en wees dankbaar om te kan werk.”

So, daar is dit… seisoene kom en seisoene gaan… hooggety en laaggety… die ritmes van die lewe… elkeen met sy eie bekoring… en ek besef dat ‘n ingesteldheid om die sakrament van die oomblik te geniet my ywer moet wees…

Advertisements

Sewe wenke om stres te bestuur

Junie 14, 2008

Ons almal ondervind op een af ander stadium – in ‘n meerdere of mindere mate – stres. Die wyse waarop ons dit hanteer is natuurlik deurslaggewend, en sommige mense hanteer (of bestuur) dit beter as ander. Ek het onlangs op ‘n Engelse artikel wat die kwessie aanspreek afgekom, en gedink om ‘n bondige samevatting hier te deel. Dit het my eie lewensreis onder die vergrootglas geplaas, en miskien kan jy ook ietsie hieruit neem. Dis vry vertaal… verskoon dus as jy van mening is dat dele beter gestel kon word…

  1. Identifikasie – Weet wie jy is. As jy onseker oor jou identiteit is, sal jy toelaat dat ander jou na hulle pype laat dans. Om iemand te probeer wees wat jy nie is nie, veroorsaak stres.
  2. Toewyding – Weet wat jy wil hê. Jy kan nie almal tevrede stel nie. Net wanneer jy A gelukkig het, is B ontevrede met jou. Moenie dat die vrees vir verwerping jou manipuleer nie. Niemand kan druk op jou uitoefen sonder jou toestemming nie.
  3. Organisering – Stel duidelike doelwitte. Voorbereiding voorkom druk, maar uitstel veroorsaak druk. Jy werk hetsy deur prioriteite of deur druk.
  4. Konsentrasie – Fokus op een ding op ‘n slag. Jy kan nie twee hase op een slag jaag nie! Jy moet in staat wees om onderbrekings te hanteer sonder dat jy van jou primêre doelwit afgelei word.
  5. Delegasie – Moenie alles self probeer doen nie. Ons raak gespanne as ons voel dat alles van ons afhang. Moenie toelaat dat perfeksionisme, of dat iemand anders ‘n taak dalk beter kan verrig jou daarvan weerhou om ander te betrek nie.
  6. Meditasie – Maak ‘n gewoonte van gebed. ‘n Daaglikse stiltetyd is ‘n goeie stres-ontlaaier. Gebruik die tyd om met God oor al jou druk en probleme te gesels, evalueer jou prioriteite, en ontdek die reëls vir suksesvolle lewe deur die Bybel te lees.
  7. Ontspanning – Maak tyd om die lewe te geniet. Balans is die sleutel tot die bestuur van stres. Daar moet balans in jou werk, pret en geestelike toewyding wees.

Waag om te glo…

Junie 11, 2008

Almal weet…
Jy kannie alles vir almal wees nie.
Jy kannie alles gelyktydig doen nie.
Jy kannie alles ewe goed doen nie.
Jy kannie alles beter as alle ander mense doen nie.

Dus…
Moet jy uitvind wie jy is, en dit wees.
Moet jy besluit wat kom eerste, en dit doen.
Moet jy jou sterk punte ontdek, en hulle benut.
Moet jy leer om jou nie met ander te vergelyk nie, want niemand anders is in die spel van “jy-wees” nie.

Dan…
Sal jy jou eie uniekheid aanvaar.
Sal jy prioriteite stel en besluite neem.
Sal jy lewe met jou beperkings.
Sal jy jouself respekteer, en volheid lewe.

Waag om te glo…
Dat jy ‘n wonderlike, unieke mens is.
Dat jy ‘n eenmalige gebeurtenis in die totale geskiedenis is.
Dat dit meer as jou reg is – dis jou plig –  om te wees wie jy is.
Dat die lewe nie ‘n probleem is om op te los nie, maar ‘n gawe om te koester.


Setperk of Putjie?

Januarie 10, 2008

Ek lees vroeër vandag van ‘n ou wat vertel toe hy gholf gespeel het, hy gedink het hy doen heel goed om die balletjie net êrens op die setperk te laat land. Hy sê sy doelwit was om die setperk te bereik sonder om homself in erg verleentheid te bring. Dus was hy tevrede selfs as die bal darem net die rantjie van die setperk kon haal. Een dag het ‘n gholf “pro” hom meegedeel wat die verskil tussen gemiddelde en uitstekende gholf is:

Die ware groot spelers speel vir die putjie, nie êrens naby die putjie op die setperk nie. Hulle mik direk vir die putjie. Hy het vir hom gesê: “Jy moet die putjie jou doelwit maak; nie net mik vir die setperk nie.”

Alhoewel gholf net ‘n spel is, het die storietjie my tog laat dink, en as ek die gholf-metafoor met my eie lewe in verband bring wonder ek… In terme van my drome, doelwitte en aspirasies, het ek nie ook maar soos die ou in die storie ‘n vae, “min-of-meer” benadering nie? Met ander woorde, ‘n hoop en verwagting om darem net die setperk van my drome te haal… al kan die balletjie minstens net op die randjie daarvan tot rus kom…

Is dit nie wat ook die verskil maak tussen ‘n gemiddelde lewe en ‘n lewe van uitmuntendheid nie? Dat diegene wat werklik vervuld lewe speel vir die droom, nie êrens naby die droom nie… hulle mik direk daarvoor. Hulle het besluit wat dit is wat hulle wil hê – spesifiek, nie vaag nie – en fokus al hulle energie op die spesifieke teiken. En ek bedoel nie geld, goed en status nie… maar dit wat vervulling en betekenisvolheid teweeg bring.

Ek weet nie hoe dit daar by jou lyk nie, maar ek het beslis nodig om weer na my gesindheid en ingesteldheid te kyk… ek is nie oortuig dat ek vir die putjie speel nie… ek dink ek speel nog vir die setperk… Ten minste is ek nou attent daarop gemaak en kan werk maak daarvan…

golfball.jpg


Van Bos na Beton

Januarie 5, 2008

Nou ja, ek’s terug van ‘n heerlike wegbreek in die Limpopo Vallei met sy (huidige) lower-groen bos, die Limpoporivier wat wal-tot-wal vloei, en die statige kremetartbome wat plek-plek die landskap volstaan…

Ek het met tye so lekker verdwaal in die rus en vrede dat ek nie geweet het watter dag van die week dit is nie. Die enigste plek wat ‘n miernes van aktiwiteit was, was Musina wat uit sy nate bars met al die oorgrens besoekers van Zimbabwe af wat hulle leë koskaste kom aanvul… Gelukkig, op die plaas het dit ons nie geraak nie, behalwe die paar keer wat dorp toe gegaan moes word om iets van die winkels af te kry.

Die weer was ook baie lekker – nie die tipiese 35°C tot 40°C wat hierdie tyd van die jaar eie aan die gebied is nie (Die warmste dag (33°C) was die dag toe ons teruggekeer het). Tyd is uitgekoop met stap in die bos, ry in die bos, laat slaap, siesta’s, braaivleis, wyn drink, af en toe ‘n bier as die son warm word, ronddryf in die swembad, boeklees, gesels, en… met tye sommer net ‘niksdoen.’

En hier is ons… terug in die loopgrawe van “operasie normaal”… met entoesiasme effe getaan in ‘n poging om heraanpassing by die stadslewe…

Nietemin, in die wegspringblokke… ‘n genesis-oomblik… ‘n nuwe begin… ‘n nuwe jaar… nuwe grond om te breek… nuwe ontdekkings om te maak… Ja, al is elke nuwe jaar ‘n vlietende oomblik in die konteks van die ewigheid is dit die volgende vastrapplek op die reis wat na die toekoms lei… die volgende sportjie op die leer van groei… Hier gaat ons! Praat weer later op die “journey.” Die mooiste en beste jou toegewens vir 2008…

imga0153.jpg


In die skaduwee van “Ou Grote”

Desember 19, 2007

Ons almal het ‘n paar “spesiale plekke”… plekke waar ons drie-derdes mens voel… plekke waarmee ons “connect”… plekke waar tyd gaan stilstaan… plekke waar spiritualiteit ‘n tasbare werklikheid word. Een van my “spesiale plekke” is by ‘n kremetart boom ‘oppie’ plaas – skoonma se plasie – skuins ‘annerkant’ Musina. As ek wil afsonder – alleen wil wees – dan kies ek koers na “Ou Grote” toe. Daar maak ek myself sit in die skaduwee van die reus en raak stil… stil sodat ek kan luister… stil sodat ek kan hoor… Twee dae is vir my veral kosbaar daar in die veld onder dié boom – Kersdag en Nuwejaarsdag. Kersdag om die genade waaruit ek leef te bepeins, en Nuwejaarsdag om die afgelope jaar onder die loep te neem en myself met verwagting en entoesiasme te “commit” vir ‘n nuwe jaar se “journey” van avontuur en ontdekking.

“So what?” Wel, dit is my voorreg om oor ‘n paar dae die stof (of teer) van Gauteng van my voete te skud en saam met my geliefde op te trek Noorde toe vir die Kerstyd… plaas toe. Net ek en sy, want die troepe (my 2 seuns) doen hulle eie ding. Die een moet werk en die ander een is iewers naby Plet saam met pêlle. Hoe dit ook al sy, ek sien uit na die tydjie van wegkom uit die ‘rotresies’ om net te gaan “chill’ ‘innie’ bos ‘oppie’ plaas… en natuurlik tyd in “Ou Grote” se skaduwee deur te bring… Weer bietjie “stock” te vat… stil te word… en te luister…

kremetart-des-05.jpg


Waar is hulle nou?

Desember 18, 2007

Ek reminisseer (ja, dis ‘n erkende afrikaanse woord vir herinneringe ophaal) nogal baie… Hoekom? Ek weet nie… gebeur sommer so in die normale loop van sake. Baie keer is dit ‘n sensoriese stimulus… iets wat ek sien… iets wat ek hoor… ‘n liedjie… ‘n foto… storie wat ek lees… iets wat ek ruik… Stimulasie op een van die sintuie wat ‘n herinnering uit die verlede sommer so laat opdoem. Assosiasies wat die brein maak met ervarings en gebeurtenisse van dae lankal vergete… en die lêer word opgeroep met ‘n dubbel-klik van die bewussyn… en et viola! daar is dit op die skerm van jou denke. En dit gaan gewoonlik gepaard met uiteenlopende emosies… nostalgie oor die aangename herinneringe… hartseer oor die onaangename herinneringe… spyt oor herinneringe van verbroue kanse en mislukkings…

Maar kom ons praat oor die goeie herinneringe… die nostalgie. Nostalgie het sy oorsprong van die Griekse woord “nostos” wat huiswaartse reis of terugkeer huistoe beteken; en “algos” wat pyn beteken. Met ander woorde, daai vreemde gevoel van “gemis” en terugverlang wanneer jy oor iets reminisseer…

Dié lang relaas bring my nou by vanaand se herinneringe en nostalgie… Waar is hulle nou? Die “hulle” is nou my eertydse makkers van Peleton 3, Echo Kompanie, Infanterie Skool… My lewensreis – so tussen treine en tussen stasies – het my gedurende 1983/84 by Infanterieskool te Oudshoorn laat aandoen. Die “vanwaar” voor dit, en “nawaar” daarna is nie vanaand belangrik nie… dalk ‘n ‘anner’ tyd… Vanaand is die ouens met wie ek ‘n klompie maande van my lewe saam in Plt 3, E-Kompanie tydens 83/84 gedeel het in my gedagtes…

Suid-basis met die wawiel voor die HK; die wawiel met 9 wit speke, 2 geel speke, en 1 rooi speek; en wanneer die rooi-speek op 12-uur geland het, was dit nag… Loopgrawe grou in klip-grond soos graniet… Inspeksie… Kolonels-pas na Hartenbos saam met Badie, Louis en Chris… Witkop Badenhorst roete… Paal-PT en “opf-kke”… Yskoue melk in die veld met opleiding wat jou “brain-freeze” gee… “Groen-k@khuis-bult”… 2,4’s met staaldak, webbing en geweer…  Flossie-vlieg grens toe… Grootfontein… Oshivelo… Omethea… Oshakati… Oshikangu… Ondangwa… Okkitopi… Baken 26½… Kaplyn… ensovoorts… TB’s… PB’s… Rondomverdediging… Shonas… Mahango-lande… ensovoorts… Pakkies van die huis af met biltong en droë vrugte… Patrollie-stap… Hinderalaag-lê… ensovoorts… Ratpacks… Honger, dors, moeg, vuil, gatvol… Drinkwater uit die shonas en “gippo-guts”… ensovoorts… Flossie-vlieg terug “states” toe…

Waar is hulle nou? Agterop die groepfoto lees ek die boodskappe wat elkeen vir my geskryf het voor uitpasseering… voor almal uitgeplaas is na ander eenhede.  Kyk ek na almal se gesigte op die foto… reminisseer ek… dink ek aan hulle, en wonder… waar is hulle nou? Gaan nie oor die ideologieë van daardie tyd nie… gaan nie oor die reg of die verkeerd nie… gaan oor die ouens saam met wie ek “ge-journey” het… die ouens met wie diep bande gesmee is… die ouens saam met wie ek sewe sakke sout opgeëet het… die ouens aan wie ek vanaand dink. Toe was ons “laaities” van gemiddeld 19 jaar oud… Dis nou 23 jaar later en ek wonder… waar is hulle nou?

infantry-school-echo-company-platoon-3-1983-84.jpg