So in die refleksie op die nuwe jaar wat voorlê maak ek toe ook ‘n draai by my blog en sien dat ek in 2008 laas iets geskryf het… Genade, hoe vlieg die tyd!
Nietemin… Ons is pas terug van ‘n heerlike 10-dae wegbreek na Mtwalume op die KZN Suidkus… Behalwe vir die Kersdag en Nuwejaarsdag spektakels op die strand, het ons ‘n wonderlike tyd saam met familie en vriende (en ons honde) deurgebring. En nou… nou is ons weer tuis… met heerlike herinneringe, bruin lywe, ‘n bondel wasgoed, ‘n dunner beursie en… ‘n effe terneergedruktheid. Dis so ironies…‘n mens sien met soveel verwagting en entoesiasme uit na ‘n welverdiende ruskans en dan, eensklaps word jy een oggend wakker en dis weer verby. Ek moet sê, persoonlik ervaar ek dit as ‘n tipe van ‘n paradoks en moet ek net keer of ek wil “alles is ‘n gejaag na wind” gedagtes koester. Kyk ek na die foto’s, dan voel dit al klaar so lank terug. Die probleem is, in daardie denkraamwerkkan‘n mens so maklik somber raak en dink, “wat help dit tog? Moet ek nie maar net aanhou werk, dan hoef ek nie aan hierdie tipe emosionele fluktuasies blootgestel te word nie?”
“Ruk jou reg man!”, breek die stil-stem deur… “lewe in die oomblik… kyk vir die bekoring in elke faset van die lewe, of dit werk, speel of rus is… wees dankbaar vir die geleenthede om weg te kan breek… en wees dankbaar om te kan werk.”
So, daar is dit… seisoene kom en seisoene gaan… hooggety en laaggety… die ritmes van die lewe… elkeen met sy eie bekoring… en ek besef dat ‘n ingesteldheid om die sakrament van die oomblik te geniet my ywer moet wees…


