Sewe wenke om stres te bestuur

Junie 14, 2008

Ons almal ondervind op een af ander stadium – in ‘n meerdere of mindere mate – stres. Die wyse waarop ons dit hanteer is natuurlik deurslaggewend, en sommige mense hanteer (of bestuur) dit beter as ander. Ek het onlangs op ‘n Engelse artikel wat die kwessie aanspreek afgekom, en gedink om ‘n bondige samevatting hier te deel. Dit het my eie lewensreis onder die vergrootglas geplaas, en miskien kan jy ook ietsie hieruit neem. Dis vry vertaal… verskoon dus as jy van mening is dat dele beter gestel kon word…

  1. Identifikasie – Weet wie jy is. As jy onseker oor jou identiteit is, sal jy toelaat dat ander jou na hulle pype laat dans. Om iemand te probeer wees wat jy nie is nie, veroorsaak stres.
  2. Toewyding – Weet wat jy wil hê. Jy kan nie almal tevrede stel nie. Net wanneer jy A gelukkig het, is B ontevrede met jou. Moenie dat die vrees vir verwerping jou manipuleer nie. Niemand kan druk op jou uitoefen sonder jou toestemming nie.
  3. Organisering – Stel duidelike doelwitte. Voorbereiding voorkom druk, maar uitstel veroorsaak druk. Jy werk hetsy deur prioriteite of deur druk.
  4. Konsentrasie – Fokus op een ding op ‘n slag. Jy kan nie twee hase op een slag jaag nie! Jy moet in staat wees om onderbrekings te hanteer sonder dat jy van jou primêre doelwit afgelei word.
  5. Delegasie – Moenie alles self probeer doen nie. Ons raak gespanne as ons voel dat alles van ons afhang. Moenie toelaat dat perfeksionisme, of dat iemand anders ‘n taak dalk beter kan verrig jou daarvan weerhou om ander te betrek nie.
  6. Meditasie – Maak ‘n gewoonte van gebed. ‘n Daaglikse stiltetyd is ‘n goeie stres-ontlaaier. Gebruik die tyd om met God oor al jou druk en probleme te gesels, evalueer jou prioriteite, en ontdek die reëls vir suksesvolle lewe deur die Bybel te lees.
  7. Ontspanning – Maak tyd om die lewe te geniet. Balans is die sleutel tot die bestuur van stres. Daar moet balans in jou werk, pret en geestelike toewyding wees.

Waag om te glo…

Junie 11, 2008

Almal weet…
Jy kannie alles vir almal wees nie.
Jy kannie alles gelyktydig doen nie.
Jy kannie alles ewe goed doen nie.
Jy kannie alles beter as alle ander mense doen nie.

Dus…
Moet jy uitvind wie jy is, en dit wees.
Moet jy besluit wat kom eerste, en dit doen.
Moet jy jou sterk punte ontdek, en hulle benut.
Moet jy leer om jou nie met ander te vergelyk nie, want niemand anders is in die spel van “jy-wees” nie.

Dan…
Sal jy jou eie uniekheid aanvaar.
Sal jy prioriteite stel en besluite neem.
Sal jy lewe met jou beperkings.
Sal jy jouself respekteer, en volheid lewe.

Waag om te glo…
Dat jy ‘n wonderlike, unieke mens is.
Dat jy ‘n eenmalige gebeurtenis in die totale geskiedenis is.
Dat dit meer as jou reg is – dis jou plig –  om te wees wie jy is.
Dat die lewe nie ‘n probleem is om op te los nie, maar ‘n gawe om te koester.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.