Ek lees vroeër vandag van ’n ou wat vertel toe hy gholf gespeel het, hy gedink het hy doen heel goed om die balletjie net êrens op die setperk te laat land. Hy sê sy doelwit was om die setperk te bereik sonder om homself in erg verleentheid te bring. Dus was hy tevrede selfs as die bal darem net die rantjie van die setperk kon haal. Een dag het ‘n gholf “pro” hom meegedeel wat die verskil tussen gemiddelde en uitstekende gholf is:
Die ware groot spelers speel vir die putjie, nie êrens naby die putjie op die setperk nie. Hulle mik direk vir die putjie. Hy het vir hom gesê: “Jy moet die putjie jou doelwit maak; nie net mik vir die setperk nie.”
Alhoewel gholf net ‘n spel is, het die storietjie my tog laat dink, en as ek die gholf-metafoor met my eie lewe in verband bring wonder ek… In terme van my drome, doelwitte en aspirasies, het ek nie ook maar soos die ou in die storie ‘n vae, “min-of-meer” benadering nie? Met ander woorde, ‘n hoop en verwagting om darem net die setperk van my drome te haal… al kan die balletjie minstens net op die randjie daarvan tot rus kom…
Is dit nie wat ook die verskil maak tussen ‘n gemiddelde lewe en ‘n lewe van uitmuntendheid nie? Dat diegene wat werklik vervuld lewe speel vir die droom, nie êrens naby die droom nie… hulle mik direk daarvoor. Hulle het besluit wat dit is wat hulle wil hê – spesifiek, nie vaag nie – en fokus al hulle energie op die spesifieke teiken. En ek bedoel nie geld, goed en status nie… maar dit wat vervulling en betekenisvolheid teweeg bring.
Ek weet nie hoe dit daar by jou lyk nie, maar ek het beslis nodig om weer na my gesindheid en ingesteldheid te kyk… ek is nie oortuig dat ek vir die putjie speel nie… ek dink ek speel nog vir die setperk… Ten minste is ek nou attent daarop gemaak en kan werk maak daarvan…



Oi oi,Welkom in die bloggerruim, en ek hoop jy is hier om te bly!
Kom loer in by my en doen die 10 nukke tag.
http://mengelmoes.wordpress.com/2008/02/16/my-nukke/