Setperk of Putjie?

Januarie 10, 2008

Ek lees vroeër vandag van ’n ou wat vertel toe hy gholf gespeel het, hy gedink het hy doen heel goed om die balletjie net êrens op die setperk te laat land. Hy sê sy doelwit was om die setperk te bereik sonder om homself in erg verleentheid te bring. Dus was hy tevrede selfs as die bal darem net die rantjie van die setperk kon haal. Een dag het ‘n gholf “pro” hom meegedeel wat die verskil tussen gemiddelde en uitstekende gholf is:

Die ware groot spelers speel vir die putjie, nie êrens naby die putjie op die setperk nie. Hulle mik direk vir die putjie. Hy het vir hom gesê: “Jy moet die putjie jou doelwit maak; nie net mik vir die setperk nie.”

Alhoewel gholf net ‘n spel is, het die storietjie my tog laat dink, en as ek die gholf-metafoor met my eie lewe in verband bring wonder ek… In terme van my drome, doelwitte en aspirasies, het ek nie ook maar soos die ou in die storie ‘n vae, “min-of-meer” benadering nie? Met ander woorde, ‘n hoop en verwagting om darem net die setperk van my drome te haal… al kan die balletjie minstens net op die randjie daarvan tot rus kom…

Is dit nie wat ook die verskil maak tussen ‘n gemiddelde lewe en ‘n lewe van uitmuntendheid nie? Dat diegene wat werklik vervuld lewe speel vir die droom, nie êrens naby die droom nie… hulle mik direk daarvoor. Hulle het besluit wat dit is wat hulle wil hê – spesifiek, nie vaag nie – en fokus al hulle energie op die spesifieke teiken. En ek bedoel nie geld, goed en status nie… maar dit wat vervulling en betekenisvolheid teweeg bring.

Ek weet nie hoe dit daar by jou lyk nie, maar ek het beslis nodig om weer na my gesindheid en ingesteldheid te kyk… ek is nie oortuig dat ek vir die putjie speel nie… ek dink ek speel nog vir die setperk… Ten minste is ek nou attent daarop gemaak en kan werk maak daarvan…

golfball.jpg


Van Bos na Beton

Januarie 5, 2008

Nou ja, ek’s terug van ‘n heerlike wegbreek in die Limpopo Vallei met sy (huidige) lower-groen bos, die Limpoporivier wat wal-tot-wal vloei, en die statige kremetartbome wat plek-plek die landskap volstaan…

Ek het met tye so lekker verdwaal in die rus en vrede dat ek nie geweet het watter dag van die week dit is nie. Die enigste plek wat ‘n miernes van aktiwiteit was, was Musina wat uit sy nate bars met al die oorgrens besoekers van Zimbabwe af wat hulle leë koskaste kom aanvul… Gelukkig, op die plaas het dit ons nie geraak nie, behalwe die paar keer wat dorp toe gegaan moes word om iets van die winkels af te kry.

Die weer was ook baie lekker – nie die tipiese 35°C tot 40°C wat hierdie tyd van die jaar eie aan die gebied is nie (Die warmste dag (33°C) was die dag toe ons teruggekeer het). Tyd is uitgekoop met stap in die bos, ry in die bos, laat slaap, siesta’s, braaivleis, wyn drink, af en toe ‘n bier as die son warm word, ronddryf in die swembad, boeklees, gesels, en… met tye sommer net ‘niksdoen.’

En hier is ons… terug in die loopgrawe van “operasie normaal”… met entoesiasme effe getaan in ‘n poging om heraanpassing by die stadslewe…

Nietemin, in die wegspringblokke… ‘n genesis-oomblik… ‘n nuwe begin… ‘n nuwe jaar… nuwe grond om te breek… nuwe ontdekkings om te maak… Ja, al is elke nuwe jaar ‘n vlietende oomblik in die konteks van die ewigheid is dit die volgende vastrapplek op die reis wat na die toekoms lei… die volgende sportjie op die leer van groei… Hier gaat ons! Praat weer later op die “journey.” Die mooiste en beste jou toegewens vir 2008…

imga0153.jpg


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.